Address:   Home Page

Tweede Wêreldoorlog

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Spring na: navigasie, soek
Tweede Wêreldoorlog

Kloksgewys van bo: Troepe van die Gemenebes in die woestyn; Sjinese burgers word lewendig begrawe deur Japannese soldate; Sowjetse magte tydens 'n winteroffensief; Japannese vliegtuie maak gereed vir opstyging; Sowjetse troepe veg in Berlyn; 'n Duitse duikboot word aangeval.
Datum 1 September 19392 September 1945
Ligging Europa, Stille Oseaan, Suidoos-Asië, Midde-Ooste, Middellandse See en Afrika.
Resultaat Oorwinning deur die Geallieerdes. Skepping van die Verenigde Nasies. Opkoms van die Verenigde State en Sowjetunie as wêreldmagte. (lees meer...)
Strydende partye
Geallieerdes Spilmoondhede
Bevelvoerders
 Josef Stalin

 Franklin Roosevelt
 Winston Churchill
 Tsjiang Kai-shek
 Charles de Gaulle
...en ander.

 Adolf Hitler

 Hirohito
 Benito Mussolini
...en ander.

Ongevalle
Militêre sterfgetal:
Meer as 14 000 000

Burgerlike sterfgetal:
Meer as 36 000 000
Totaal:
Meer as 50 000 000

Militêre sterfgetal:
Meer as 8 000 000

Burgerlike sterfgetal:
Meer as 4 000 000
Totaal
Meer as 12 000 000

Die Tweede Wêreldoorlog was 'n wêreldwye militêre konflik wat geduur het van 1939 tot 1945. Die oorlog was 'n samesmelting van twee konflikte: een wat in Asië begin het as die Tweede Sjinees-Japannese Oorlog en die ander wat in Europa begin het met die Inval van Pole.

Die oorlog is veroorsaak deur die onbevredigende besleg van die Eerste Wêreldoorlog en die ekspansionistiese ambisies van die drie hoof spilmoondhede (Duitsland, Italië en Japan), maar ook die Sowjetunie se strategiese belange in Finland, Bulgarye en die Europese see-engtes. Vanweë die geskille met Stalin en Molotof, sy minister van buitelandse sake, oor die afbakening van die Sowjetunie se belangesfere in Europa, wat 'n voorvereiste vir die Sowjet-toetrede tot die Anti-Britse koalisie van Duitsland, Italië en Japan was, het Hitler uiteindelik die besluit geneem om die Sowjetryk met 'n verrassende aanval uit te skakel.[1]

Hierdie globale konflik het meeste van die wêreld se nasies in twee kampe verdeel: die Geallieerdes en die Spilmoondhede. As gevolg van die groot skaal waarop die oorlog plaasgevind het, het meer as 60 miljoen mense omgekom, wat beteken dat dié konflik ook die dodelikste in die aangetekende geskiedenis van die mens was.[2] Die oorlog was tot dusver ook die enigste waartydens sowel kernwapens (deur die VSA in Japan) asook biologiese en chemiese wapens (deur Japan in Sjina) gebruik is.

Die Tweede Wêreldoorlog was dan ook die verreikendste oorlog in die geskiedenis en die betrokke lande het saam meer as 100 miljoen militêre personeel gehad wat aan die oorlog deelgeneem het. Totale oorlog het die onderskeiding tussen burgerlike en militêre hulpmiddels tot niet gemaak en was ook die toneel vir een nasie se mobilisering van sy ekonomiese, industriële en wetenskaplike vermoëns tot inspanning van die oorlog. Amper twee derdes van die gestorwenes was siviele burgers. Die Sjoa (Engels: Holocaust), wat grotendeels in Oos-Europa plaasgevind het, was verantwoordelik vir die stelselmatige uitmoor van ongeveer ses miljoen Jode en ander sosiale en politieke minderhede (Sinti en Roma, Kommuniste, ens.) deur die Spilmoondhede.

Die konflik het geëindig met 'n oorwinning deur die Geallieerdes. In die nasleep daarvan het die Verenigde State van Amerika en die Sowjetunie ontwaak as die twee voorste wêreldmoondhede. Selfdeterminasie het tot dekolonisasie- en onafhanklikheidsbewegings in Afrika en Asië gelei, terwyl Europa self die pad na integrasie begin loop het.

Inhoud

[wysig] Agtergrond

Die onmiddelike oorsaak van die Tweede Wêreldoorlog word algemeen beskou as die Duitse inval van Pole en die Japannese aanvalle op Sjina die VSA en die Britse en Nederlandse kolonies in Asië. In elkeen van die gevalle was die aanvalle die resultaat van besluite wat deur outoritêre heersende elites in Duitsland en Japan gemaak is. Die Tweede Wêreldoorlog het begin nadat die agressie met amptelike oorlogsverklarings of gewapende weerstand teëgestaan is.

In Duitsland het die ekonomiese teëspoed wat gevolg het op die Eerste Wêreldoorlog, en die strawwe vredesmaatreëls waarmee dit gepaardgegaan het, dit vir die Nazi party moontlik gemaak om aan die bewind te kom en 'n nasionalistiese en ekspansionistiese beleid in plek te stel wat sou lei tot die inval van Pole en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

Japan is in die 1930's grootliks deur 'n militaristiese kliek van Leër en Vloot leiers regeer wat daarop ingestel was om Japan tot 'n koloniale mag te ontwikkel. Hulle doelwit was onder andere om die land se afhanklikheid van die invoer van basiese grondstowwe en olie weens 'n gebrek aan natuurlike hulpbronne te verminder deur direkte beheer oor sodanige hulpbronne elders te verkry. Japan het Mantsjoerye in 1931 ingeval en Sjina in 1937. Die VSA en die Verenigde Koninkryk het gereageer met lenings en koverte militêre hulpverlening aan Sjina asook die instel van sanksies teen Japan. Die maatreëls sou Japan moontlik tot die onderhandelingstafel gedwing het, maar die Japannese leierskap was oortuig dat die Franse, Nederlandse en Britse regerings meer begaan was oor die oorlog in Europa terwyl die Sowjetunie nie ekonomies of militêr Japan bedreig het nie. Die leierskap het gevolglik besluit om die Nederlands-Indië, Maleisië en die Filippyne in te val wat bekend sou staan as die "Groot Oos-Asiëoorlog in die Stille Oseaan".

[wysig] Oorsaak van die oorlog in Europa

Duitsland en Frankryk het reeds vir 80 jaar om oorheersing oor kontinentale Europa geworstel en het twee vroeëre oorloë geveg: die Frans-Duitse Oorlog en die Eerste Wêreldoorlog. Intussen het die mag van die Sowjetunie gegroei en gedreig om dié van die Duitsland en Frankryk te oorskry soos die nywerheid ook na dié land toe uitgebrei het. Alhoewel Duitsland die Russe oorspronklik in 1914 oorwin het, het die oorlog in geheel vir Duitsland in besonder rampspoedig geëindig, met miljoene dood, die verlies van gebiede en ekonomiese ontberings. Van die meer omstrede bepalings van die Vrede van Versailles was dat Duitsland en sy bondgenote algehele skuld vir die Eerste Wêreldoorlog moes aanvaar, dat dit aansienlike gebiedstoegewings sou moes maak en skadevergoeding aan die Geallieerdes moes maak. Die verdrag is reeds so vroeg as 1922 ondermyn en teen die middel-dertigs openlik verontagsaam.

In die ses jaar voor die Tweede Wêreldoorlog het Adolf Hitler, die leier van die Nazi-party, die mag in Duitsland oorgeneem na hy die demokratiese regering, die Weimar Republiek, uitgeskakel het. In Mein Kampf, 'n outobiografiese boek geskryf deur Hitler toe hy in die tronk was, noem hy dat hy bedoel het om die lande om Duitsland in te val en te verower en hulle sodoende Duits te maak. Hy het teen die Kommuniste en etniese minderhede, soos Jode, uitgevaar. Ná hy aan bewind gekom het, het hy Duitsland met 'n grootskaalse program van bewapening voorberei vir nog 'n oorlog. Tydens die Groot Depressie het baie sakeondernemings bankrot gespeel en selfmoordsyfers het gestyg. Hitler en die Italiaanse Benito Mussolini het 'n ekonomiese verbetering belowe, iets wat baie ondersteuners gelok het.

Adolf Hitler Josef Stalin
Winston Churchill Franklin D. Roosevelt
Kloksgewys van links-bo: Adolf Hitler, Josef Stalin, Franklin D. Roosevelt en Winston Churchill.

Tydens die Spaanse Burgeroorlog van 1936 tot 1939 is die Spaanse demokratiese regering, wat grotendeels deur die Sowjetunie en ander lede van die Volkebond ondersteun is, omvergegooi deur 'n fascistiese politieke party onder leiding van Francisco Franco, 'n Nazi-ondersteuner.

In die laat 1930's het Hitler die Verdrag van Versailles verbreek: dié verdrag was verantwoordelik vir die vrede na die Eerste Wêreldoorlog en het vereis dat Duitsland, onder andere, die land sal ontwapen en sy leër beperk tot 100 000 man. Hitler het egter die Rynland hermilitariseer en die Duitse leër, die vloot en die lugmag groter gemaak.

Die Britse en Franse regerings het 'n paaibeleid gevolg in die hoop om 'n nuwe Europese oorlog te vermy: hul bevolkings was steeds vermoeid na die reuse sterfgetalle van die Eerste Wêreldoorlog. Dié beleid het sy klimaks bereik in die Ooreenkoms van München in 1938, waardeur die skynbaar onvermydelike uitbreek van die oorlog voorkom is toe die Verenigde Koninkryk en Frankryk ingestem het tot Duitsland se anneksering en onmiddelike besetting van die Duits-sprekende streke van Tsjeggoslowakye. In ruil hiervoor het Hitler sy woord gegee dat Duitsland geen verdere aansprake op gebiede in Europa sou maak nie.[3][4] Neville Chamberlain het verklaar dat die ooreenkoms "vrede vir ons tyd" teenwoordig het. In Maart 1939 het Duitsland egter die res van Tsjeggoslowakye ingeval en 'n effektiewe einde aan enige pogings van versoening gemaak.

Die mislukking van die Ooreenkoms van München het bewys dat Hitler nie betroubaar was wat onderhandelings aanbetref nie en dat sy aspirasies vir oorheersing van Europa verder gestrek het as wat die Verenigde Koninkryk en Frankryk kon duld. Pole en Frankryk het op 19 Mei 1939 amptelik belowe om mekaar van militêre ondersteuning te voorsien, sou een van die lande aangeval word. Die Britte het reeds in Maart van dié jaar hul ondersteuning aan Pole aangebied.

Op 23 Augustus 1939 het Duitsland en die Sowjetunie die Molotow-Ribbentrop-verdrag onderteken. Die verdrag het 'n geheime protokol ingesluit wat Sentraal-Europa in Duitse en Sowjetse areas van belangstelling ingedeel het, insluitende 'n voorwaarde wat Pole opgedeel het. Elke land het die ander beloof dat hy vry sou wees om sy dele te regeer soos hy dit goeddink, selfs al het dit militêre besetting ingesluit. Die ooreenkoms het voorsiening gemaak vir die verkoop van olie en kos deur die Sowjetunie aan Duitsland; dít het die gevaar van 'n Britse blokkade verminder (so 'n blokkade het veroorsaak dat Duitsland amper uitgehonger het tydens die Eerste Wêreldoorlog). Hitler was bereid om oorlog teen Pole te verklaar en ook teen die Verenigde Koninkryk en Frankryk, indien nodig. Hy het beweer dat daar Duitse griewe was rakende die kwessies omtrent die Vrye Stad Danzig en die Poolse Korridor. In werklikheid was hy egter van plan om alle Poolse gebiede te verower en dit deel van die "Deutsches Reich" te maak.[5] Die ondertekening van 'n nuwe alliansie tussen die Verenigde Koninkryk en Pole op 25 Augustus het nie sy planne aansienlik verander nie.

Op 1 September 1939 het Duitsland Pole binnegeval, wat veroorsaak het dat Frankryk en die Verenigde Koninkryk oorlog teen Duitsland verklaar het. Die Verenigde Koninkryk het saam met hom die reuse Britse Ryk gebring en die meeste lede van die Britse Statebond het kort daarna by hulle aangesluit.

[wysig] Oorsaak van die oorlog in Asië

Hideki Tojo, die Eerste Minister van die Japannese Keiserryk.

Westerse lande het, volgens die beleid van die Verdrag van Versailles, begin om Japan as 'n koloniale moondheid te erken en sommige politieke en militêre leiers het daarop aangedring dat Japan daarop geregtig was om, onder die heerskappy van Keiser Hirohito, Asië te verower en te herenig.

Japan het Mantsjoerye in 1931 ingeval en Sjina in 1937 om sodoende die land se karige stapels natuurlike bronne te vermeerder: Japan het gely aan oorbevolking en wou die land se koloniale ryk uitbrei. Die Japannese het aanvanklike aantogte gemaak, maar was vertraag en tydelik teëgesit in die Slag van Sjanghai. Die stad is egter in Desember 1937 deur die Japannese verower, saam met die destydse hoofstad Nanking (ook gespel "Nanjing"). As gevolg hiervan het die Sjinese Nasionaliste-regering hul setel verskuif na Wuhan en daarna na Tsjoengking tot aan die einde van die oorlog. Verowerde gebiede van Sjina is blootgestel aan wreedaardige besettings, met baie wreedaardige dade teen die Sjinese burgers, waaronder die Bloedbad van Nanking en wydverspreide gebruik van chemiese wapens. Japan en Sjina het nooit amptelik oorlog verklaar nie: beide het gevrees dat 'n oorlogsverklaring Europa en die Verenigde State sou vervreem.

In die lente van 1939 het die Sowjetse en Japannese magte in Mongolië gebots. Die groeiende Japannese teenwoordigheid in die Verre Ooste is as 'n groot strategiese bedreiging deur die Sowjetunie gesien en die Sowjetse vrees vir 'n oorlog wat op twee verskillende geografiese plekke geveg moes word, was die primêre rede vir die Molotow-Ribbentrop-verdrag met die Duitse Ryk, alhoewel sommige geskiedkundiges glo dat die Ooreenkoms van München die primêre oorsaak van die verdrag was. Die Japannese inval van Mongolië het gefaal, aangesien hul magte deur die Sowjetse eenhede, onder leiding van Generaal Georgi Zjoekow, afgeslaan is. Na dié mislukte inval het daar vrede tussen die Sowjetunie en Japan geheers tot en met 1945. Japan het daarin belanggestel om sy ryk uit te brei, wat tot konflik gelei het met die Verenigde State oor die Filippyne en die beheer van die seeroetes na die Nederlandse Oos-Indië. Die Sowjetunie het op die weste gekonsentreer en het slegs die minimum troepe agtergelaat om die grens teen Japan te bewaak.

Vliegtuie van die Flying Tigers met hul opmerklike haai-agtige dekorasies.

Japannese magte het die Franse kolonie Frans-Indosjina op 22 September 1940 binnegeval. Die Verenigde State van Amerika (na hulle die V.S.-Japannese handelsverdrag van 1911 opgesê het), die Verenigde Koninkryk, Australië en Nederland (wat die olie van die Nederlandse Oos-Indië beheer het) het in 1941 gereageer deur boikotte in te stel op die uitvoer van natuurlike hulpbronne na Japan. Die westerse magte het ook begin om lenings aan Sjina te voorsien, saam met geheime militêre ondersteuning, bekend as die Flying Tigers ("vlieënde tiere").

Japan moes kies tussen die onttrekking uit Sjina en Indo-China, die onderhandeling van 'n middeweg, om hulpbronne elders te koop of om oorlog te verklaar of lande te verower wat beskik het oor olie, ystererts, bauxiet en ander grondstowwe. Japan se leiers het geglo dat die Geallieerdes te besig was met die oorlog teen Duitsland en hul nie aan Japan sou kon steur nie en dat die Verenigde State steeds nie gereed vir oorlog was nie en eerder 'n middeweg sou wou vind, eerder as om 'n volskaalse oorlog te voer. Japan het dus voortgegaan met hul planne vir 'n oorlog in die Stille Oseaan, deur byna-gelyktydige aanvalle te loods teen Maleisië, Thailand, Hong Kong, Hawaii, die Filippyne en Wake-eiland.

Vir propaganda doeleindes het Japan se leiers verklaar dat die doel van hul militêre veldtogte die skepping van 'n "Groot Oos-Asiese welstandsfeer" is. Dié sfeer, het hulle beweer, sou 'n samewerkende genootskap van Asiatiese nasies wees, wat deur Japan van Europese koloniale oorheersing bevry is en dus selfstandig en selfgedetermineerd sou kon bestaan. In die praktyk was besette lande en hul bevolkings egter geheel en al ondergeskik aan Japannese gesag.

[wysig] Verloop van die oorlog

Sien gerus ook die Tydlyn van die Tweede Wêreldoorlog.
Die Tweede Wêreldoorlog in Europa. Rooi lande is lede van die Geallieerdes of word deur die Geallieerde beheer. Blou lande is deel van die Spilmoondhede of word deur die Spilmoondhede beheer. Die Sowjetunie is groen (hulle het eers in 1941 by die Geallieerdes aangesluit).

Die Tweede Wêreldoorlog was 'n ses jaar-lange oorlog gevul met slagvelde en militêre konflik, met die Spilmoondhede as die dominante magte vir die eerste paar jaar. Kontinentale Europa is vinnig deur Duitsland oorgeneem en Groot Brittanje het alleen gestaan tot die Duitse inval van die Sowjetunie in 1941. Die Verenigde State, wat Groot Brittanje voorsien het van hulpmiddels, het in 1941 tot die oorlog toegetree en saam met hulle hulle kapasiteit vir vervaardiging en mannekrag gebring, wat gehelp het om Duitsland en Japan te oorweldig. 1942 was veelbeduidend: Duitsland en Italië het nederlae gely in die Sowjetunie en Noord-Afrika waarvan hulle nooit werklik herstel het nie. Met die Geallieerde inval in Italië in 1943 en Frankryk (sien die Slag van Normandië) in 1944, is die finale fases van die oorlog in beweging gesit. Sowjetse troepe het tegelykertyd deur Oos-Europa gemars en het 'n klimaks bereik in die Slag van Berlyn en die vernietiging van die Derde Ryk.

Op die Asiatiese oorlogstoneel het Japan dele van Sjina vir ses jaar beset voor veldslae en gevegte in 1937 op 'n groot skaal uitgebreek het as gevolg van die Marco Polo-brug-insident. Sjinese magte was teen 1941 in staat om die Japannese vooruitgang te stuit, maar geeneen van die nasies kon die oorhand kry nie: Japan het wel die digbevolkste en ekonomies produktiewe dele van die land beheer, maar Sjina was in beheer van die enorme binneland. Op die 7de en 8ste Desember 1941 het Japan tegelykertyd aanvalle op Hong Kong, Sjanghai, die Filippyne, Thailand en Hawaiï geloods en in 'n kort periode hulle ryk van die sentrale Stille Oseaan tot by Nieu-Guinee en verder tot by Mianmar uitgebrei. As 'n gevolg is die "American-British-Dutch-Australian Command" (in Afrikaans: "Amerikaanse-Britse-Nederlandse-Australiese Kommando") gevorm (ook genoem die "ABDACOM" of slegs die "ABDA"). Dié vereniging was die voorloper van die Verenigde Nasies. Die vorming het gelei tot die deurslaggewende Slag van die Koraalsee, Slag van Guadalcanal en die Slag van Midway in Junie 1942. Matige sukses deur beide kante het die konflik uitgerek tot 1944, toe die Geallieerdes die oorhand gekry het in die Slag van Saipan in die Filippyne. Hulle het daarna ook begin met bombarderings van die Japannese tuiseilande wat 'n klimaks behaal het met die werp van twee atoombomme en die oorgawe van Japan.

[wysig] Oorlog breek uit in Europa

Op 1 September 1939 het Duitsland Pole ingeval, onder die valse voorwendsel van 'n "Poolse aanval" op 'n Duitse grenspos. Die Verenigde Koninkryk en Frankryk het Duitsland twee dae gegee om van Pole te onttrek. Op die derde dag, 3 September 1939, het die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland oorlog teen Duitsland verklaar en het die Tweede Wêreldoorlog begin. Hul voorbeeld is gou gevolg deur Frankryk, Suid-Afrika, Kanada en Nepal. Brittanje het onmiddelik begin om Duitse skepe gevange te neem en 'n blokkade op te rig.

Ondanks die Franse en Britse verdragsverpligtings teen Pole, was beide Frankryk en Groot Brittanje polities onwillig om 'n landinval in Duitsland te loods. Die Franse se bewapeningsproses het traag verloop en het slegs 'n klein offensiewe aanval in die Saarland geloods. Nóg die Franse, nóg die Britte het betyds landmagte gestuur om Pole te ondersteun. Intussen het die Duitsers Warskou bereik, ná hulle deur die Poolse verdedigingsmagte gesny het.

Op 17 September het die Sowjetunie, in ooreenkoms met hulle geheime ooreenkoms met Duitsland, Pole uit die ooste ingeval. Die Poolse verdediging het in chaos verval, siende dat hulle skielik van twee kante af aangeval is. 'n Dag later het die Poolse president en opperbevelvoerder na Roemenië gevlug. Op 1 Oktober 1939 het die vyandige magte, na 'n maand-lange aanval op Warskou, die stad ingevaar. Die laaste Poolse eenhede het op 6 Oktober, tydens die Slag van Kock, oorgegee. Pole het self egter nooit amptelik teen die Duitsers oorgegee nie en sommige troepe het dit reggekry om na van buurlande te onttrek. In die nasleep van die inval het 'n besette Pole dit reggekry om 'n magtige Poolse Geheime Staat te skep as versetbeweging en het dit steeds ondersteuning aan die Geallieerdes gelewer vir die duur van die Tweede Wêreldoorlog.[6]

'n Finse troep met 'n masjiengeweer tydens die Winteroorlog.

Na die val van Pole het Duitsland verdere aanvalle gestop om te hergroepeer tydens die winter van 1939-1940 tot April 1940, terwyl die Britse en Franse troepe op die verdediging gebly het. Daar is ook deur joernaliste na hierdie periode verwys as die "Skemeroorlog" of "Sitzkrieg", omdat so min werklike gevegsaksie plaasgevind het. Tydens hierdie periode het die Sowjetunie Finland op 30 November 1939 aangeval, wat die begin van die Winteroorlog aangedui het. Ten spyte van die feit dat die Sowjetse troepe vier teen een in die meerderheid was, het die Rooi Leër die aanval beskaamd moeilik gevind en die Finse verdediging 'n volskaalse inval verhoed. Die Sowjetse troepe het egter volgehou en in die einde het die Vredesverdrag van Moskou tussen die Sowjetunie en Finland veroorsaak dat Finland strategies belangrike grensgebiede naby Leningrad aan die Sowjetunie moes oordra.

Duitsland het Denemarke en Noorweë op 9 April 1940 ingeval (sien Operasie Weserübung). Denemarke het die inval nie teëgesit nie, maar Noorweë het wel teenaanvalle geloods. Die Noorweegse verdediging is egter ondermyn deur President Vidkun Quisling, wat sy land bedrieg het deur met die Sowjetunie saam te werk. Die Verenigde Koninkryk het troepe gehad wat gereed was om Noorweë te ondersteun en dié het in die noorde van die land geland.[7] Teen laat Junie is die Geallieerdes verslaan en het hulle onttrek, Duitsland het die grootste deel van Noorweë beheer en die Noorweegse leër het oorgegee, terwyl die Noorweegse Koninklike Familie na Londen ontsnap het. Duitsland het Noorweë gebruik as 'n basis vir lug- en see-aanvalle op Arktiese konvooie wat op pad na die Sowjetunie was. Noorweegse guerillastryders sou egter regdeur die oorlog teen die Duitse besetting aanhou veg.

[wysig] Inval van Wes-Europa en aanval op Amerika

Die ontwikkeling van die Duitsers se Fall Gelb, die inval van die Lae Lande, kloksgewys van regs-bo.

Die Duitsers het die Skemeroorlog op 10 Mei 1940 beëindig toe hulle Luxemburg, België, Nederland en Frankryk ingeval het. Die Nederlanders is gou oorweldig en die Nederlandse stad, Rotterdam, is vernietig tydens 'n bomaanval. Die British Expeditionary Force (BEF) en die Franse Leër het Vlaandere bereik en het beplan om 'n voortdurend bewegende oorlog in die noorde te veg, terwyl hulle 'n voortdurend stilstaande front langs die Maginot-linie verder suid instand sou hou. Die Geallieerdes se planne is egter gou tot niet gemaak deur die mees klassieke voorbeeld in die geskiedenis van die Blitzkrieg.

In die eerste fase van die inval, Fall Gelb, het die Wehrmacht se Panzergruppe von Kleist deur die Ardenne gejaag; die Ardenne is 'n swaar beboste streek en die Geallieerdes het geglo dat dit onmoontlik vir 'n moderne, gemeganiseerde leër sou wees om deur hierdie gebied te beweeg. Die Duitsers het deur die Franse verdedigingslyn by Sedan, wat uit reserwetroepe bestaan het, gebreek en het verder wes beweeg deur Noord-Frankryk tot by die Engelse Kanaal, wat die Geallieerdes in twee gedeel het.

Die BEF en die Franse magte is in die noorde omsingel en is tydens Operasie Dynamo uit Duinkerke, Frankryk, ontruim. Die operasie was een van die grootste militêre ontruimings in die geskiedenis, siende dat 338 000 Britse en Franse troepe oor die Engelse Kanaal vervoer is in oorlogskepe en siviele bote.

Duitse offisiere ry langs die verlate Avenue Foch, in Parys in Junie 1940.

Op 10 Junie het Italië by die oorlog aangesluit en Frankryk in die suide aangeval. Duitse magte het aangehou met hul verowering van Frankryk met Fall Rot ("geval rooi"). Frankryk het 'n wapenstilstandsverdrag met Duitsland onderteken, met die gevolg dat Duitsland Parys en twee derdes van Frankryk beset het, asook die stigting van 'n Duitse vasalstaat wat bekendgestaan het as Vichy-Frankryk. Die setel van die staat was dan ook in die stad, Vichy, geleë.

Duitsland het in die somer van 1940 begin met voorbereidings vir die inval van die Verenigde Koninkryk tydens Operasie Seeleeu (Unternehmen Seelöwe in Duits). Meeste van die Britse Leër se swaar wapens en voorraad het verlore gegaan in Duinkerke. Die Duitsers sou nie daarin slaag om die Royal Navy ("Koninklike Vloot") te verslaan nie, maar het gedink dat hulle wel sukses met die inval sou kon behaal indien hulle die oorhand oor die lugweë kon verkry. Ten einde dit reg te kry moes hulle eers die Royal Air Force (RAF, "Koninklike Lugmag") verslaan. Die volgende kragmeting tussen die twee lugmagte in die laat-somer van 1940 sou later bekendstaan as die Slag van Brittanje (ook soms die "Slag van Engeland" genoem). Die Luftwaffe het aanvanklik die RAF Fighter Command se vliegvelde en radarstasies geteiken. Die RAF het gereageer deur bomaanvalle teen Berlyn te loods. 'n Woedende Hitler het sy aandag na die bombardering van Londen verskuif, in 'n operasie wat bekend staan as Die Blitz. Die Luftwaffe se aanslag is uiteindelik deur die "Hawker Hurricane"- en "Supermarine Spitfire"-vegvliegtuie afgeweer, terwyl die Royal Navy in beheer van die Engelse Kanaal gebly het. Die Duitsers se planne om Brittanje in te val is daarna vir 'n onbepaalde periode uitgestel.

Na die val van Frankryk in 1940 was die Verenigde Koninkryk in 'n finansiële krisis. Franklin Roosevelt het die Amerikaanse Kongres oorreed om die "Lend-Lease"-akte op 11 Maart 1941 goed te keur, wat die Verenigde Koninkryk en 37 ander lande van $50,1 biljoen in militêre toerusting en ander voorraad voorsien het. $31,4 biljoen daarvan het na die Verenigde Koninkryk en die Statebond gegaan. Kanada het 'n soortgelyke dog kleiner program opgestel, wat $4,7 biljoen in voorraad na die Verenigde Koninkryk gestuur het.

Buiten Italië, het Wes-Europa bitter min werklike gevegte gesien tussen September 1940 tot Junie 1944. Britse en Kanadese magte het op 19 Augustus 1942 'n klein aanval op die besette Franse hawe in Dieppe geloods. Die doel van die aanval was die toets en invordering van inligting vir 'n inval van Europa wat later in die oorlog sou plaasvind. Die aanval was 'n totale mislukking, maar het Brittanje en Kanada van noodsaaklike inligting rakende amfibiese taktiek voorsien: die inligting sou later van nut wees tydens Operasie Torch en die Slag van Normandië (kodenaam "Operasie Overlord").

Na die Japannese aanval op Pearl Harbor op 7 Desember 1941, het die Verenigde State ook by die oorlog aangesluit en het Winston Churchill en Franklin D. Roosevelt mekaar ontmoet by die Arcadia-konferensie, waartydens hulle besluit het dat die verslaan van Duitsland aandag moet geniet bo die verslaan van Japan. Om die druk wat deur die Duitsers op die Sowjetunie uitgeoefen is, te verlig, het die Verenigde State in 1942 'n inval van (besette) Frankryk voorgestel, wat van oor die kanaal sou plaasvind. Die Britte was hierteen gekant en het voorgestel dat 'n klein inval vanuit Noorweë of landings in die Franse kolonies in Noord-Afrika 'n beter strategie sou wees. Die Verklaring van Verenigde Nasies is uitgereik en die Westerse Geallieerdes het Noord-Afrika eerste ingeval.

Die oorblyfsels van die Duitse dorp Wesel na die intensiewe Geallieerde bombarderings in die area 97% van al die geboue vernietig het.

Met die intrede van die Verenigde State tot die oorlog het die lugoorlog teen laat 1942 tot die Geallieerdes se voordeel gedraai. Die Amerikaanse lugmag het begin met die eerste dagbombarderings van Duitsland, wat toegelaat het dat die aanvallers hul teikens beter kon sien, maar dit het ook die aanvallers aan meer gevare blootgestel as die waaraan hulle tydens nagbombarderings blootgestel sou wees. Die poging is georganiseer deur die lugopperhoofmaarskalk, Arthur Travers Harris, wat later bekend sou staan as "Bommer Harris". Winston Churchill het ook "terreuraanvalle" beveel wat hele stede in een klap sou uitvee, deur middel van brandbomme wat vuurstorms sou veroorsaak en sodoende die Duitse werkers van hulle huise sou ontneem. Massa-aanvalle, insluitende meer as 500 tot 1000 van die grootste bomwerpers, is op 'n slag geloods teen vliegvelde, nywerheidsentrums, U-bootbasisse, spoorrangeerterreine, oliereservoirs en, in latere stadiums van die oorlog, op lanseerplatforms vir wapens soos die V-1-missiel, die V-2-vuurpyl en 'n spuitenjinvliegtuig, die Messerschmitt Me 262. Die Luftwaffe is oorweldig en teen 1945 was al die grootste Duitse stede uitgebrande ruïnes.

Die Geallieerdes het ook begin met sabotasiesendings teen Duitsland, soos Operasie Anthropoid, waartydens 'n sluipmoord op Reinhard Heydrich, die argitek van die Finale Oplossing, in Mei 1942 deur Tsjeggiese versettingsagente gepleeg is. Die agente is in Kanada opgelei en ingevlieg vanaf die Verenigde Koninkryk. As vergelding het Hitler brutale vergeldingsmaatreëls op die nabygeleë Tsjeggoslowaakse dorpie, Lidice, toegepas. Die Geallieerdes het egter nooit opgehou om hulle magte in die Verenigde Koninkryk op te bou en uit te brei nie en het 'n uiteindelike inval van Wes-Europa in die laat lente of vroeë somer van 1944 beplan.

[wysig] Slag van die Atlantiese Oseaan

'n Duitse U-boot in die Birkenhead-hawe, in Merseyside, Engeland.

In die Noord-Atlantiese Oseaan het Duitse duikbote, bekend as "U-bote", gepoog om toevoer van voorraad na die Verenigde Koninkryk af te sny deur handelskepe te sink. In die eerste vier maande van die oorlog het hulle meer as 110 vaartuie gesink. Die U-bote het ook af en toe Britse en Kanadese oorlogskepe aangeval. Een duikboot het die Britse vliegdekskip, HMS Courageous, gesink terwyl 'n ander een dit reggekry het om die slagskip, HMS Royal Oak, te sink terwyl sy geanker was by Scapa Flow.

Die Duitsers het ook slagskepe gehad wat 'n bedreiging vir die Geallieerde skeepvaart ingehou het. In die Suid-Atlantiese Oseaan het die Duitse slagskip, "Admiral Graf Spee", nege Britse koopvaardyskepe gesink. Die slagskip is egter langs die kus van Suid-Amerika opgespoor en deur die kruisers HMS Ajax, HMS Exeter en HMNZS Achilles aangeval tydens die Slag van Rio de la Plata. Die kruisers het begin om die Duitse slagskip binne-in die hawe van Montevideo in te dwing. Die kaptein van die Duitse skip, Hans Langsdorff, het egter sy skip weg van die hawe af gestuur en dit daar in die diep water self laat sink, eerder as om gevangene geneem te word.

Op 24 Mei 1941 het die Duitse slagskip, "Bismarck", die hawe in die Straat van Denemarke verlaat en gedreig om ongesiens die Atlantiese Oseaan in te vaar. Die skip het die HMS Hood, een van die beste slagkruisers van die Royal Navy, gesink. 'n Massiewe jagtog het uitgebreek, waartydens die Britte het agt slagskepe en slagkruisers, twee vliegdekskepe, 11 kruisers, 21 torpedojaers en ses duikbote in aksie gestel om die Duitse slagskip op te spoor. Ná 'n agtervolging van 2 700 km is die Bismarck gesink: Fairey Swordfish-torpedobomwerpers van die vliegdekskip HMS Ark Royal het die Bismark getref en haar roer gestrem, wat die eskaders van die Royal Navy toegelaat het om haar te sink.

In die somer van 1941 het die Sowjetunie by die oorlog aangesluit en hulle aan die Geallieerdes se kant geskaar. Die Sowjetunie het wel enorme reserwes met betrekking tot mannekrag gehad, maar het baie van hul toerusting en vervaardigingsbasisse verloor in die eerste weke na die inval deur Duitsland. Die Westerse Geallieerdes het probeer om hulle te help deur Arktiese konvooie te stuur, wat van die Verenigde Koninkryk en die Sowjetunie na die noordelike dele van die Sowjetunie, Archangelsk en Moermansk, gevaar het. Die verraderlike roete om die Noord-Kaap was die ligging van baie gevegte, siende dat die Duitsers aanhoudend probeer het om die konvooie se roetes deur middel van U-bote, bomwerpers en ander slagskepe te onderbreek.

'n Enigma-masjien. Die Duitsers het sulke masjiene gebruik om hulle radiokommunikasies te kodeer en dekodeer.

Ná die Verenigde State in Desember 1941 tot die oorlog toegetree het, het die U-bote ook die skeepvaart langs die ooskus van die Verenigde State, Kanada en die water rondom Newfoundland, die Karibiese See en die Golf van Meksiko aangeval en meerdere skepe gesink. Hulle was aanvanklik uiters suksesvol, maar later het die instelling van verdonkerings en 'n gekonnekteerde konvooistelsel 'n daling in die aantal aanvalle tot gevolg gehad en het die U-bote hul fokus terug na die middel van die Atlantiese Oseaan verskuif.

Op 9 Mei 1942 het die torpedojaer, HMS Bulldog, 'n U-boot gevange geneem en 'n ongeskonde Enigma-masjien, 'n versleutelings- of ontsyferingsapparaat, van die Duitse boot afgeneem. Die masjien is na Bletchley Park in Engeland geneem, waar dit gebruik is om die Duitse kodestel te ontsyfer. Die Geallieerdes het daarna die voordeel gehad dat hulle van die Duitse radiokommunikasies wat hulle onderskep het, kon verstaan en sodoende skeepsmagte kon stuur na plekke waar hulle die effektiefste sou wees.

Die keerpunt van die Slag van die Atlantiese Oseaan het plaasgevind vroeg in 1943 soos die Geallieerdes hulle skeepstaktieke verfyn het en effektiewe gebruik gemaak het van nuwe tegnologie om teenaanvalle teen die U-bote te loods. Die Geallieerdes het ook begin om skepe vinniger te vervaardig as wat die oues gesink is en het naderhand minder skepe verloor nadat hulle die konvooistelsel in gebruik geneem het. Verbeterde "anti-duikboot"-oorlogvoering het beteken dat die lewensverwagting van 'n tipiese U-bootbemanning in maande gereken kon word. Die enorm verbeterde Tipe 12 U-boot het verskyn soos die oorlog ten einde geloop het, maar was te laat om die uitkoms te beïnvloed.

In Desember 1943 het die laaste groot seeslag tussen die Royal Navy en die Kriegsmarine (die Duitse oorlogsvloot) plaasgevind. In die Slag van Noord-Kaap is Duitsland se laaste slagkruiser, die "Scharnhorst", gesink deur die HMS Duke of York, die HMS Belfast en 'n aantal ander torpedojaers.

[wysig] Oorlogstoneel in Afrika

Die Suez-kanaal was 'n belangrike skeepshandelweg vir die Britse Ryk. Die verlies van die kanaal sou 'n ompad van duisende kilometers beteken.

Beheer van Suid-Europa, die Middellandse See en Noord-Afrika was belangrik omdat die Britse Ryk afhanklik was van die skeepshandelweg deur die Suez-kanaal. Indien die kanaal in die Spilmoondhede se hande sou val, of indien die Royal Navy die beheer van die Middellandse See sou verloor, sou vervoer na die Verenigde Koninkryk, Indië en Australië om die Kaap de Goede Hoop moes gaan, wat 'n roete van duisende kilometers langer sou beteken het.

Na die oorgawe van die Franse, het die Britte die Franse Vloot in Julie 1940 aangeval, terwyl dit in Noord-Afrika by Mers-el-Kebir geanker was. Die aanval is geloods omdat die Britte gevrees het dat die vloot in die Duitsers se hande sou val, maar het die verhouding tussen Brittanje en Frankryk vir die volgende paar jaar versuur. Nadat hulle die Franse vloot vernietig het, het die Royal Navy teen die Italiaanse vloot geveg om heerskappy van die Middellandse See, vanaf hulle sterk basisse by Gibraltar, Malta en Alexandrië in Egipte.

Italiaanse troepe het Egipte vanaf Libië binnegedring om die Britse basisse wat daar geleë was in September 1940 aan te val. Dit het die begin van die Noord-Afrika-veldtog aangedui, waartydens beide kante gepoog het om heerskappy oor die Suez-kanaal te kry. Die Britse, Indiese en Australiese magte het teenaanvalle geloods in Operasie Compass, maar die operasie is stopgesit in 1941 na vele Australiese en Nieu-Seelandse troepe na Griekeland verplaas is om die land teen Duitse aanvalle te beskerm. Die Duitse magte (wat later as Das Afrika Korps bekend sou staan), onder leiding van Generaal Erwin Rommel, het in Februarie 1941 in Libië geland en die aanval op Egipte hernu.

'n Britse Crusader-tenk ry verby 'n brandende Duitse Pzkw Mk IV-tenk tydens die bevryding van Tobroek (Operasie Crusader).

Rommel se troepe het spoedig na die Ooste vooruitgegaan en het die belangrike hawe van Tobroek beleër. Die Geallieerdes het twee pogings aangewend om Tobroek te bevry, maar hulle is altwee keer verslaan. 'n Groter offensief aan die einde van daardie jaar (Operation Crusader) het egter daarin geslaag om Rommel se magte na 'n hewige geveg te verdring.

In April en Mei 1941 was daar ook 'n kort oorlog in Irak wat geëindig het in die hernuwing van Britse besetting in Irak. In Junie het die Geallieerde magte Sirië en Libanon ingeval en op 17 Junie het hulle Damaskus ingeneem. Later daardie jaar, in Augustus, het Britse troepe, en troepe van die Rooi Leër neutrale Iran beset en die land se olie, sowel as 'n suidelike voorraadweg na die Sowjetunie, beveilig.

Aan die begin van 1942 is die Geallieerde magte in Noord-Afrika verswak as gevolg van troepe wat na die Verre-Ooste verplaas is. Rommel het weereens daarin geslaag om Benghazi in te neem. Sy troepe het daarna ook daarin geslaag om die Geallieerdes in die Slag van Gazala te verslaan en het Tobroek ingeneem saam met duisende gevangenes en het groot aantalle voorraad in beslag geneem, voor hy dieper in Egipte in gevaar het.

Veldmaarskalk Bernard Law Montgomery, die bevelvoerder van die Britse 8ste Leër.

Die Eerste Slag van El Alamein het in Julie 1942 plaasgevind. Die Geallieerde magte het teruggetrek na die laaste verdedigbare punt voor Alexandrië en die Suez-kanaal. Die Afrika Korps het egter teen hierdie tyd al hulle voorraad opgebruik en die verdedigers het hulle teenaanvalle gestaak. Die Tweede Slag van El Alamein het tussen 23 Oktober en 3 November plaasgevind. Luitenantgeneraal Bernard Montgomery was in bevel van die Geallieerde magte wat as die Britse 8ste Leër bekend gestaan het. Die Geallieerdes het die offensief geneem en, ten spyte van aanvanklik sterk Duitse opposisie, het hulle uiteindelik geseëvier. Na die Duitse nederlaag by El Alamein het die Spilmoondhede se troepe suksesvol na Tunisië teruggetrek.

Die Verenigde State, Brittanje en die Vrye Franse troepe het op 8 November 1942 Operasie Torch geloods, met die hoop om beheer oor Noord-Afrika te verkry deur gelyktydige landings in Casablanca, Oran en Algiers uit te voer, met 'n landing in Bône, die ingang tot Tunisië, 'n paar dae later. Die plaaslike magte van Vichy-Frankryk het slegs geringe weerstand gebied voor hulle aan die Vrye Franse magte en die gesag van Generaal Henri Giraud oorgegee het. Ter wedervergelding het Hitler Vichy-Frankryk ingeval en beset. Die Duitse en Italiaanse troepe in Tunisië het die Geallieerdes op hul hakke gehad vanuit Algerië in die weste en Libië in die ooste. Rommel se taktiese oorwinning oor die onervare Amerikaanse troepe in die Slag van Kasserinepas het slegs die uiteindelike oorgawe van die Spilmoondhede in Noord-Afrika uitgestel tot Mei 1943.

Lede van die 9de Australiese Infanterie Afdeling poseer vir 'n foto tydens die Tweede Slagveld van El Alamein.

Italië het beheer oor Eritrea en Italiaans-Somaliland tydens die koloniale Wedloop om Afrika verower en het Ethiopië ingeneem voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog tydens die Tweede Italiaans-Abessiniese Oorlog (1935-1936). Hierdie drie kolonies is herorganiseer in die domein van Italiaans Oos-Afrika. Tydens die oorlog het hulle teen Britse magte geveg van Brits-Somaliland, Kenia en Soedan.[8][9] Na Italië se aanvanklike sukses het die Geallieerdes egter die oorhand gekry en die Italianers het naderhand 'n guerrilla-oorlog in Ethiopië gevoer tot hul oorgawe in September 1943, waarna hulle by die Geallieerdes aangesluit het.

Die Geallieerde magte het in September gepoog om die hoofstad van Senegal te bevry van die Vichy-Franse troepe wat die stad verdedig het: hulle het egter misluk en Frans-Wes-Afrika het onder die beheer van Vichy-Frankryk gebly tot en met die landings van Operasie Torch in Noord-Afrika in November 1942. Die Geallieerdes was egter suksesvol in die Slag van Gaboen en kon hulle beheer oor Frans-Ekwatoriaal-Afrika vir die Vrye Franse Magte verseker.

Troepe van Operasie Torch land op die strande by Algiers. Hulle skuil agter 'n Amerikaanse vlag (links) in die hoop dat die Franse troepe nie op hulle sal vuur nie.

Na die skepping van die marionetteregering, Vichy-Frankryk, deur die Duitsers, het die